Wat is ‘n “Property Condition Report”?
Vanaf Februarie 2022 vereis artikel 67 van die Wet op Eiendomspraktisyns (“die Wet”) die voltooiing en ondertekening van ‘n “Property Condition Report” (“PCR”) deur die eienaar van onroerende eiendom (“eiendom”), wat spesifieke besonderhede moet bevat rakende die toestand van die eiendom wat verkoop (of verhuur) word.
Wie moet die “Property Condition Report” voltooi?
- Die “Property Condition Report” word deur die verkoper voltooi en onderteken voor die verlening van ‘n mandaat aan die eiendomspraktisyn (eiendomsagent).
- Boonop moet ‘n afskrif van die voltooide PCR verskaf word aan enige voornemende koper (of huurder) wat ‘n aanbod vir die koop van die eiendom wil maak, of wat van voorneme is om ‘n huurooreenkoms aan te gaan.
- Indien ‘n PCR nie voltooi en onderteken word nie, beteken dit nie dat die ooreenkoms nietig is nie, maar dit kan uitgelê word dat geen gebreke geopenbaar is nie. Dit kan verreikende gevolge hê soos hieronder sal blyk.
Waarom moet ‘n “Property Condition Report” voltooi word?
- Verkopers het ‘n wetlike verpligting om akkurate en volledige inligting rakende die toestand van die eiendom te verskaf.
- Versuim om bekende gebreke of defekte te openbaar, of enige wanvoorstelling, kan lei tot ernstige regsgevolge, insluitend, maar nie beperk nie, tot ‘n vertraging in registrasie van die eiendomstransaksie, wat ernstige finansiële implikasies vir beide die koper en die verkoper kan inhou.
- Daarom is dit noodsaaklik vir verkopers om korrekte en ware inligting te verskaf om enige regskomplikasies te vermy.
Wat is die gevolge indien ‘n “Property Condition Report” nie voltooi word nie?
- Volgens die Wet moet ‘n eiendomspraktisyn voldoen aan die vereistes genoem in artikel 67 en indien hulle nie aan hierdie vereistes voldoen nie, kan die benadeelde party (koper of verkoper) hulle aanspreeklik hou.
- Daarbenewens het die Beherende Liggaam van Eiendomspraktisyns (“PPRA”) die mag om aan ‘n oortredende eiendomspraktisyn ‘n toepaslike sanksie op te lê. Indien ‘n eiendomspraktisyn aan die oortreding van die Wet skuldig bevind word, kan hy of sy beboet word.
- Nadat die eiendom in die koper se naam geregistreer is, kan laasgenoemde defekte ontdek wat nooit deur die verkoper geopenbaar is nie.
- Die aanbod om te koop sluit gewoonlik ‘n “voetstoots”-klousule in wat die verkoper vrywaar teen eise vir skadevergoeding ten opsigte van enige defekte wat met die eiendom verband hou, tensy die koper kan bewys dat die verkoper bewus was van die gebreke en versuim het om dit te openbaar.
- Die “voetstoots”-klousule het ten doel om die verkoper te beskerm. Ons reg erken egter talle spesifieke gevalle waar die verkoper nie hierdie klousule sal kan gebruik as ‘n verweer teen ‘n eis om skadevergoeding deur ‘n koper nie.
- Dit is uiters belangrik dat die koper die eiendom deeglik inspekteer, of selfs deskundig laat inspekteer, vir enige sigbare gebreke voordat ‘n aanbod gemaak word om die eiendom te koop.
Watter boodskap wil ons hiermee oordra?
- Ons verstaan dat die verantwoordelikheid om die PCR te voltooi by die eiendomspraktisyn lê.
- As ‘n verkoper moet u egter die PCR-verslag voorberei voordat u eiendom te koop aangebied word om te verseker dat u u verpligting as ‘n eiendomseienaar nakom.
Het u hulp nodig?
Ons help u graag met die voorbereiding van so ‘n verslag. Daarom, neem asseblief die vrymoedigheid om met ons in verbinding te tree vir enige bystand.
Alhoewel ons alles moontlik doen om die akkuraatheid en betroubaarheid van die inligting wat in hierdie publikasie aangebied word, te verseker, kan nie die skrywer van die artikel, of die firma, verantwoordelik gehou word vir enige gevolge wat voortspruit uit aksies wat geneem word op grond van die inligting of aanbevelings wat verskaf word nie. Ons materiaal is slegs vir inligtingsdoeleindes bedoel en u moet steeds ‘n prokureur van u keuse raadpleeg omtrent u regte in u unieke situasie.
Recent Comments